2977 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Getalle

Die gebruik in joernalistiek met betrekking tot die skryf van getalle is dat getalle kleiner as twintig uitgeskryf word en syfers gebruik word vir getalle groter as twintig. Ook word twintig, dertig, veertig, ensovoorts uitgeskryf. Dit verskil egter van publikasie tot publikasie. Byvoorbeeld:

  • Ek wil vyftien afskrifte van die dokument hê
  • Ek wil 21 eksemplare van die boek hê.

In literêre tekste word getalle gewoonlik volledig uitgeskryf. Byvoorbeeld:

 

  • "Ek het nie lus om honder maal heen en weer te loop nie," sê Derrick.
  • Nadat Karien drie keer die brief deurgelees het, bars sy in trane uit.

In resepte word getalle egter nooit uitgeskryf nie. Byvoorbeeld:

  • Voeg 10 ml water by.
  • 3 t olie.

Sien ook die bladsy oor Syfers.


Eenvoudige breuke word gewoonlik uitgeskryf. Breuke word vas geskryf. Byvoorbeeld:  

  • Een helfte van die pasteie is opgeëet, maar tweederdes van die koek het oorgebly. 

In Suid-Afrika is die komma die enigste wetlike erkende desimaalteken wat vir alle getalle gebruik word. Hierdie reël geld ook vir geldbedrae. Byvoorbeeld:

  • R192,35

By getalle kleiner as een, moet ’n nul die desimaalteken voorafgaan. Byvoorbeeld:

  • 0,9 m nie *,9 m
  • 0,125 kg nie *,125 kg
  • R0,25 nie *R,25
  • 0,5c nie *,5c

Indien daar in getalle meer as drie syfers links of regs van die desimaalteken is, word die syfers ter wille van leesbaarheid deur spasies – nie kommas nie – in groepe van drie verdeel, getel vanaf die desimale teken. Byvoorbeeld :

  • 1 725 352, 648 km² grond
  • 1 985 617 t steenkool
  • R9 776,00
  • 37 611,7 kWh

Datums kan op verskillende maniere geskryf  word:

  • 2014-01-05
  • 1 Mei 2014
  • 01/05/2014 (Hierdie vorm word nie meer vir amptelike dokumente gebruik nie.)

Tyd word met minstens vier syfers aangedui. Byvoorbeeld:

  • 03:15 vir kwart oor drie in die oggend
  • 16:35 vir vyf-en-twintig voor vyf die middag
  • 12:00 vir twaalfuur die middag
  • 24:00 vir middernag

Die gebruik van ’n h in plaas van ’n dubbelpunt (byvoorbeeld 03h15) is nie korrek nie.

 

Tydsduuraanduidings word soos volg geskryf: 

  • Hy het die Comrades-wedloop in 9:34:45 afgelê. 
  • Sy het die marathon in 6:36:21 voltooi. 
  • Die 800 m-wedren is in ’n tyd van 1:45,2 gewen. 





  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties