4831 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Uitdrukkings en segswyses

In die meeste tale kry ons naas alleenstaande woorde ook sogenaamde multiwoordeenhede. 'n Mens leer hierdie groepies woorde ook as eenhede, en hulle funksioneer dikwels soos woorde. Ons kan tussen twee hoofgroepe multiwoordeenhede onderskei, te wete vaste uitdrukkings en vaste woordgroepe.

 


Vaste uitdrukkings

Hieronder kry ons hoofsaaklik drie soorte, naamlik (slag)spreuke, spreekwoorde en idiome. Die verskil tussen hierdie drie soorte hang af van die mate van bevrorenheid (of versteendheid) van die uitdrukking, met ander woorde die mate waartoe die vaste uitdrukkking verander kan word.

 

Spreuke (word deur sommige mense spreekwoordelike uitdrukkings genoem): Dit is vaste sinne wat een of ander waarheid verkondig en waarvan die betekenis maklik afgelei kan word uit die woorde van die sin. 'n Mens kan nie maklik woorde in 'n spreuk verander nie - dit vertoon daarom 'n hoë mate van bevrorenheid. Spreuke kan gewoonlik toegeskryf word aan een of ander (bekende) persoon, soos Langenhoven of Confucius. Byvoorbeeld:

  • My oupa het altyd gesê: "Jy krap met 'n kort stokkie aan 'n groot leeu se gat."
  • Salomo het gesê: "Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry."

Spreuke is gewoonlik nie deel van die woordeskat nie, maar die sin word as geheel aangeleer.

 

Slagspreuke (ook genoem leuses) is dieselfde as spreuke, maar kom gewoonlik in advertensies of ander veldtogte voor. Byvoorbeeld:

  • goed, beter, botter (in 'n botteradvertensie)
  • Afrikaanse digitaal (die Virtuele Instituut vir Afrikaans se slagspreuk)
  • Leef en streef (skoolleuse)

Motto's is gewoonlik persoonlike (slag)spreuke of waarhede wat dikwels voor in 'n boek gepubliseer word, of op iemand se Facebookprofiel geplaas word. Dit verklaar byvoorbeeld die tema van die boek, of sê iets oor dit waarvoor die persoon lewe.


Spreekwoorde: Soos spreuke is spreekwoorde kort sinne wat dikwels een of ander waarheid of lewensles bevat en waarvan die woorde nie maklik verander kan word nie (dit is met ander woorde bevrore). Spreekwoorde is ook dikwels metafories: die betekenis kan nie uit die letterlike betekenis van die woorde afgelei word nie. Anders as spreuke kan spreekwoorde nie noodwendig aan iemand spesifieks toegeskryf word, maar word ook aangeleer en van geslag tot geslag oorgedra. Byvoorbeeld:

  • Die appel val nie ver van die boom nie.
  • Wie heuning wil eet, moet steke verdra.
  • Die henne wat die meeste kekkel, lê nie die meeste eiers nie.
  • Geld wat sleg is, maak krom wat reg is.

Om bevrorenheid te illustreer: 'n Mens sal nie sommer sê Die perske val nie ver van die boom nie, of Haar appel val nie ver van haar boom nie, want mense sal dan wonder wat jy bedoel. Spreekwoorde word wel soms verander vir komiese effek.


Idiome (word ook gesegdes of segswyses genoem): Dit is uitdrukkings waarvan die betekenis ook nie altyd uit die letterlike betekenis afgelei kan word nie en wat dus ook aangeleer moet word. Idiome is ook dikwels (maar nie altyd nie) deel van 'n ander sin en kan 'n mindere of meerdere mate van variasie vertoon. Byvoorbeeld:

  • jou mantel na die wind draai: Erhard draai mos altyd so maklik sy mantel na die wind.
  • die kat uit die boom kyk: Jong, kyk maar die kat eers goed uit die boom.
  • lunsriem: Justin is 'n regte lunsriem.

Ander idiome is meer versteend, maar een of twee woorde kan verander word. Byvoorbeeld:

  • Aardjie na sy vaartjie > Aardjie na haar vaartjie
  • Ledigheid is die duiwel se oorkussing > Lieg is die duiwel se oorkussing
  • Van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg > Van nuuskierigheid is die kerk leeg en die tronk vol > Van dwelms gebruik is die kerk leeg en die tronk vol

Pragmatiese idiome is segswyses wat oor en oor herhaal word in alledaagse gesprekke. Byvoorbeeld:

  • Vat vyf!
  • Hoe lyk dinge?
  • Stywe lyne!

Clichés is gewone segswyses (dus 'n tipe idioom) wat oor en oor gebruik word en later hulle seggenskrag verloor. 'n Mens moet dus liewer clichés vermy, aangesien dit geykte, vervelige segswyses is. Byvoorbeeld:

  • Sy skitter in haar afwesigheid.
  • Hy het agter die doellyn gaan kuier.
  • Dit skiet soos paddastoele uit die grond.

Vaste woordgroepe

 

Vaste woordgroepe is gewoonlik twee of drie woorde wat dikwels saam met mekaar en in dieselfde volgorde aangetref word. Anders as by vaste uitdrukkings is die betekenis van vaste woordgroepe gewoonlik af te lei uit die betekenis van die onderdele van die woordgroep (al is dit dikwels uit vreemde tale of baie ou woorde). Ons onderskei hoofsaaklik vyf soorte, te wete leenwoordgroepe, voorsetselgroepe, binomiale groepe, multiwoord-eiename en kollokasies.

 

Leenwoordgroepe: Dit is vaste woordgroepe wat uit ander tale oorgeneem word. Ons leer sulke woordgroepe as 'n eenheid, sonder dat ons noodwendig weet wat die dele beteken. Byvoorbeeld:

  • ex officio
  • en masse
  • ad infinitum

Voorsetselgroepe (oftewel groepsetsels, soos Rufus Gouws dit noem): Dit is woordgroepe soos ter wille van, op grond van en ten spyte van. Sulke uitdrukkings word ook as eenhede aangeleer, sonder om noodwendig die betekenis van die dele te verstaan.

 

Binomiale groepe (oftewel Siamesetweelingwoorde): Dit is pare woorde wat dikwels saam met mekaar in dieselfde volgorde voorkom. Byvoorbeeld:

  • sout en peper (en nie peper en sout nie)
  • spek en eiers (en nie eiers en spek nie)
  • brood en botter
  • eb en vloed
  • Adam en Eva
  • dag of/en nag
  • op of/en af
  • min of meer
  • ja of nee
  • die hoender of die eier
  • 8 tot 5
  • stap vir stap

Ons kry ook trinomiale groepe, soos goud, silwer en brons; oor, neus en keel; of Abraham, Isak en Jakob.

 

Let daarop dat ons binomiale ook in ander vakgebiede kry, soos byvoorbeeld in biologie (Panthera leo; Homo sapiens) en wiskunde (3x - 2x2).

Multiwoord-eiename: Dit is eiename wat uit twee of meer dele bestaan en wat deur spasies geskei word. Byvoorbeeld:

  • Nelson Mandela
  • Die Burger
  • Verenigde Nasies
  • Dooie See

Kollokasies: Dit is woordkombinasies wat dikwels voorkom. Kyk by Kollokasies vir voorbeelde. 

 

Lees meer

Vir 'n uitgebreide lys van spreekwoorde en idiome, sien Anton Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (uitgegee deur Pharos), of kyk by VivA .






  



© 2013

Beter Afrikaans is 'n inisiatief van

Trifonius

en

Martin van Toll Producties