Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Taalbenamings

Die name van tale word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Afrikaans, Engels, Grieks, Tswana


'n Saamgestelde taalnaam bestaande uit 'n selfstandige naamwoord plus 'n basiese taalnaam word sonder 'n koppelteken geskryf. Byvoorbeeld:

  • Kanselafrikaans, Koerantafrikaans, Spreektaalafrikaans, Rugbyafrikaans, Skryftaalafrikaans


'n Saamgestelde taalnaam bestaande uit 'n geografiese naam plus 'n basiese taalnaam, word sonder 'n koppelteken vas geskryf. Byvoorbeeld: 

  • Oosgrensafrikaans, Oxfordengels, Pretoriasotho, Sandveldafrikaans, Sowetozoeloe, Weskusafrikaans


'n Saamgestelde taalnaam bestaande uit die naam van 'n gebruikersgroep plus 'n basiese taalnaam, word sonder 'n koppleteken vas geskryf. Byvoorbeeld: 

  • Establishmentafrikaans, Indiërafrikaans, Mynwerkersafrikaans


'n Saamgestelde taalnaam bestaande uit 'n onverboë byvoeglike naamwoord plus 'n basiese taalnaam word sonder 'n koppelteken vas geskryf. Byvoorbeeld: 

  • Gemeengermaans, Hoogduits, Hooghollands, Oudengels, Oudhoogduits, Oudnederfrankies, Oudnoors, Oudsaksies


'n Saamgestelde taalnaam bestaande uit 'n voorvoegsel plus 'n basiese taalnaam word sonder 'n koppelteken vas geskryf. Byvoorbeeld: 

  • Oergermaans, Oerslawies, Paleogrieks, Pseudolatyn, Superafrikaans


'n Saamgestelde taalnaam bestaande uit 'n afleiding van 'n geografiese naam plus 'n basiese taalnaam, word met 'n koppelteken vas geskryf. Beide dele word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld: 

  • Kaaps-Hollands, Kontinentaal-Germaans, Tirools-Duits


'n Saamgestelde taalnaam waarvan 'n nieselfstandige eerste deel op o eindig, word met 'n koppelteken geskryf. Beide dele word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld: 

  • Afro-Amerikaans, Anglo-Fries, Anglo-Normandies, Anglo-Saksies, Balto-Slawies, Gallo-Romaans, Indo-Europees, Indo-Iraans, Joego-Slawies, Ostro-Goties, Serwo-Kroaties, Turko-Tartaars


'n Saamgestelde taalnaam wat uit twee name van tale of taalgebruikersgroepe bestaan, word met 'n koppelteken vas geskryf. Beide dele word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld: 

  • Angel-Saksies, Fins-Oegries, Fries-Frankies, Maleis-Portugees


'n Saamgestelde taalnaam waarvan die eerste deel 'n windrigtingnaam is, word met 'n koppelteken vas geskryf. Beide dele word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Noord-Duits, Suid-Sotho, Oos-Fries, Wes-Germaans, Wes-Vlaams


In 'n saamgestelde taalnaam bestaande uit 'n verboë byvoeglike naamwoord plus 'n basiese taalnaam, word die twee dele los geskryf. Beide dele word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Kaapse Afrikaans, Klassieke Latyn, Nuwe Nederlands,  Switserse Duits, Vroeë Nuwe Hoogduits

Omdat oud nie verbuig word nie, skryf ons Oudengels. Wanneer ons egter ou se verboë vorm, ou, gebruik, skryf ons Ou Engels. Ander voorbeelde sluit in:

  • Ou Noors of Oudnoors
  • Ou Germaans of Oudgermaans
  • Ou Wes-Nederfrankies of Oud-Wes-Nederfrankies





Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties