2982 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Aanspreekvorme

By die aanhef van briewe en ander dokumente is daar soms bietjie verwarring. Die maklikste om te onthou is dat die naam of titel van die persoon aan wie die brief gerig word, met 'n hoofletter gespel word. Byvoorbeeld:

  • Liewe Ouma
  • Geagte Meneer
  • Beste Oom

Wanneer ons egter 'n persoon se titel én naam/van gebruik, word die titel met 'n kleinletter gespel. Byvoorbeeld:

  • Beste tannie Linda
  • Geagte professor Van Wyk
  • Geagte me. Susan du Toit
  • Beste dokter Herman

Sekere formele aanspreekvorme word altyd met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • U Edelagbare
  • U Hoogheid
  • U Majesteit

Wanneer 'n mens sulke persone adresseer (op 'n koevert), word die U 'n Sy, Haar of Hulle, en word steeds met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Haar Edele regter Moshe
  • Haar Majesteit die Koningin
  • Sy Majesteit koning Willem-Alexander

 


 

Ons skryf saamgestelde range en ampsbenamings met koppeltekens. Byvoorbeeld:

  • direkteur-generaal
  • luitenant-kolonel
  • skout-by-nag

Wanneer ons egter een van die volgende woorddele as deel van 'n titel, rang of ampsbenaming gebruik, word dit sonder 'n koppelteken vas geskryf:

  • adjunk: adjunkdirekteur
  • amateur: amateurbokser
  • aspirant: aspirantleier
  • assessor: assessorlid
  • assistent: assistentredakteur
  • hoof: hoofbestuurder
  • kandidaat: kandidaatoffisier
  • konsult: konsultingenieur
  • leerling: leerlingstoker
  • mede: medeprofessor
  • onder: ondervoorsitter
  • oud: oudvoorsitter
  • staf: stafsersant
  • sub: subredakteur
  • vise: viserektor

Let op! As een van hierdie woorddele egter met 'n saamgestelde rang of ampsbenaming gekombineer word, word al drie dele met koppeltekens geskei. Byvoorbeeld:

  • adjunk-direkteur-generaal
  • assistent-regter-president
  • oud-sekretaris-generaal

Die meervoud van saamgestelde range en ampsbenamings word meestal op die tweede deel aangedui. Byvoorbeeld:

  • adjudant-offisiere
  • generaal-majoors
  • luitenant-generaals
  • luitenant-kolonels
  • sersant-majoors

Daar is egter 'n paar uitsonderings waar die meervoud op die eerste lid aangedui word. Byvoorbeeld:

  • direkteurs-generaal of direkteure-generaal (die persoon is 'n direkteur, nie 'n generaal nie)
  • posmeesters-generaal (die persoon is 'n posmeester, nie 'n generaal nie)
  • regters-president (die persoon is 'n regter, nie 'n president nie)


Lees meer

In die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) kan jy meer oor range en ampsbenamings leer by die volgende reëls:

  • Reël 12.35 tot 12.37
  • Reël 13.12 tot 13.14 


 






  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties