Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Woordafbreking

In geskrewe, getikte of gedrukte tekste is daar soms te min plek in ’n reël om nog ’n volledige woord in te pas. So ’n woord mag afgebreek word deur ’n koppelteken op ’n bepaalde plek in te voeg en die woord op die volgende reël te laat aangaan. Dit word volgens bepaalde reëls gedoen. Daar is ook woorde wat nie afgebreek mag word nie.

 


’n Eenlettergrepige woord word nie aan die einde van ’n reël afgebreek nie. Byvoorbeeld:

  • leeus, maer, skreeu, steeg, Spaans, mooi, word


Indien ’n meerlettergrepige woord aan die einde van ’n reël afgebreek word, word die koppelteken op daardie reël geplaas en word die woord op die volgende reël voltooi. Byvoorbeeld:

  • Die kapitaalmark het gister ook positief ge-
    reageer en ontleders sê Anglo-American het sy aan-
    deel in Lonrho vergroot.


Woorde word grotendeels volgens verdeling in lettergrepe afgebreek. Byvoorbeeld:

  • be-sproei-ing
  • han-de-ling
  • hui-ge-laar
  • klui-se-naar
  • tran-sak-sie
  • va-naand
  • vrien-din


Woorde moet verkieslik op betekenisvolle plekke afgebreek word en herkenbaarheid moet in gedagte gehou word. Byvoorbeeld:

  • bio-chemie eerder as bioche-mie
  • eien-aardig eerder as eienaar-dig
  • nooiens-van eerder as nooi-ensvan
  • kinder-klere eerder as kinderkle-re
  • ver-stewig eerder as verste-wig
  • oerang-oetang eerder as oe-rangoetang


Indien ’n woord wat normaalweg met ’n deelteken geskryf word aan die einde van ’n reël afgebreek moet word, is die deelteken opsioneel (AWS, reël 1.7). Die koppelteken neem as 't ware die funksie van die deelteken oor. Byvoorbeeld:

  • beëdig word be- OF beëdig word be-
    edig ëdig
  • finansiële word finansi- OF finansiële word finansi-
    ele ële
  • geïnteresseerd word ge- OF geïnteresseerd word ge-
    interesseerd ïnteresseerd
  • koöpteer word ko- OF koöpteer word ko-
    opteer öpteer


Waar twee konsonante langs mekaar in ’n woord staan, soos ’n dubbel ll, kk, rr, ss, tt of pp, kan die woord tussen hulle afgebreek word. Byvoorbeeld:

 

  • bak-ke
  • bal-lerina
  • bor-rel
  • debat-teer
  • interes-sant
  • kop-pie
  • mon-nik
  • potpour-ri


Eiename en plekname word verkieslik nie afgebreek nie.

 






Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties