2977 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Attributiewe -e

Wanneer byvoeglike naamwoorde vóór selfstandige naamwoorde gebruik word, kry dit dikwels 'n -e aan die einde. 

 

 


Algemene beginsels

 

Woorde wat net uit een lettergreep bestaan, kry gewoonlik nie die -e nie. Byvoorbeeld:

  • 'n bang hondjie
  • 'n mooi prent
  • 'n groot perd

Woorde wat uit meer as een lettergreep bestaan, kry gewoonlik die -e. Byvoorbeeld:

  • die lelike eendjie
  • 'n vreeslike reus
  • 'n ontsettende groot ramp

Uitsonderings

Woorde wat uit een lettergreep bestaan en eindig op md, nd, ld of rd kry wel die -e. Byvoorbeeld:

  • 'n vreemde man
  • 'n ronde bal
  • 'n wilde kat
  • 'n harde neut

Sommige eenlettergrepige woorde wat eindig op d of g en voorafgegaan word deur 'n lang vokaal, kry wel die -e (en die d of g val weg). Byvoorbeeld:

  • breed word breë
  • koud word koue
  • wyd word wye
  • droog word droë
  • moeg word moeë
  • vroeg word vroeë

Eenlettergrepige woorde wat eindig op u kry 'n -we as dit verbuig word. Dit geld ook nuut en gaaf. Byvoorbeeld:

  • die ruwe rotse
  • 'n skuwe persoon
  • 'n sluwe vent
  • 'n nuwe maatjie
  • 'n gawe tannie 

Sommige eenlettergrepige woorde wat op g, s of p eindig, kry 'n -te as dit verbuig word. Byvoorbeeld:

  • 'n ligte kleur
  • 'n regte, egte edelsteen
  • 'n digte bos
  • 'n vaste verhouding
  • die woeste see
  • 'n stipte persoon

Eenlettergrepige woorde wat op f vóór 'n kort vokaal eindig, kry 'n -wwe of -we as dit verbuig word. Byvoorbeeld:

  • 'n dowwe geluid
  • 'n growwe klip
  • 'n liewe tannie
  • 'n skurwe grap

'n Klomp eenlettergrepige byvoeglike naamwoorde wat op 'n konsonant plus 'n s eindig, kry wel die -e. Byvoorbeeld:

  • 'n ratse kat
  • 'n skalkse glimlag
  • 'n trotse houding

Wanneer gewone eenlettergrepige byvoeglike naamwoorde wél met die -e verbuig word, het dit dikwels 'n figuurlike betekenis. Byvoorbeeld:

  • Die arm man het min geld, teenoor Die arme man het pakslae gekry.
  • Dit is 'n ver pad van Pretoria na Kaapstad, teenoor Ons het op verre paaie gereis
  • Sy het in diep water verdrink, teenoor Sy het deur diepe waters gegaan.

Meerlettergrepige byvoeglike naamwoorde wat op el of er eindig, kry meestal nie 'n -e as dit verbuig word nie. Byvoorbeeld:

  • 'n edel daad
  • 'n kruppel kat
  • 'n simpel idee
  • 'n bitter drankie
  • 'n dapper meisie
  • 'n donker wolk
  • 'n lekker uitstappie

 






  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties