Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Afkappingsteken

Met 'n afkappingsteken

 

Die afkappingsteken (of apostroof) word hoofsaaklik by meervoude en verkleinwoorde gebruik wat op die letters i, o, u en 'n beklemtoonde a eindig.

  • Byvoorbeeld by meervoude: alkali's, Israeli's, video's, skadu's, ma's, pa's, hoera's, Van Breda's.
  • Byvoorbeeld by verkleinwoorde: foto'tjie, skadu'tjie, radio'tjie, bra'tjie.

Woorde wat in die meervoud of verkleiningsvorm op 'n e eindig wat nie uitgespreek word nie, kry ook 'n afkappingsteken.

  • Byvoorbeeld: garage'e, caprice'e, crèche'e

Waar hierdie woorde egter op 'n s in die meervoud eindig, kry hulle nie 'n afkappingsteken nie. 

  • Byvoorbeeld: garages, carpices, crèches.

Name of vanne wat op e of ers of s eindig, en wat nie uitgespreek word nie, kry in die meervoud of verkleiningsvorm 'n afkappingsteken.

  • Byvoorbeeld: Terblanche'e, Estelle's, Cilliers'tjie, Du Plessis's, Louis'tjie

Meervoude of verkleiningsvorme van letters, syfers of woorde wat as letters uitgespreek word (byvoorbeeld akronieme), kry wel afkappingstekens.

  • Voorbeelde van letters: a's, m'etjie.
  • Voorbeelde van syfers: 2010's, graad 3'tjie.
  • Voorbeelde van akronieme: TV's, HOD's, KWV's, Absa's.

Die afkappingsteken word ook in 'n aantal gevalle gebruik om aan te dui dat letters ontbreek.

  • Byvoorbeeld: 'n (vir een), 'k (vir ek), s'n (vir syn), sy't (vir sy het)
  • Byvoorbeeld: aan't werk of aan 't werk (vir aan het/die werk), as't ware of as 't ware.
  • Byvoorbeeld: 'skuus (vir ekskuus in informele kontekste)

Let op dat 'n woord soos seblief (inkorting van asseblief) lank reeds in Afrikaans gevestig is. In die AWS, WAT, VAW en talle ander woordeboeke word seblief dus sonder afkappingsteken opgeneem.


By woorde van vreemde herkoms word die afkappingsteken gebruik soos in die oorspronklike taal. 

  • Byvoorbeeld: hors d'oeuvre.

 


 

Geen afkappingsteken

 

Die meervoude of verkleinwoorde van woorde wat op i, o of u eindig, maar waarvan die klank deel van 'n diftong vorm, kry nie afkappingstekens nie.

  • Byvoorbeeld: leeus, koeitjie, spreeus.

By woorde wat eindig op oo, uu of ee, kry die woorde nie 'n afkappingsteken nie.

  • Byvoorbeeld: Naidoos, Voslootjie, kafees, komiteetjie.

Woorde wat op y of ie eindig, kry nie 'n afkappingsteken in die meervoud of verkleiningsvorm nie.

  • Byvoorbeeld: essays, De la Reys, abstraksies, bredies.

Name of vanne wat op t, x, of z eindig, kry nie 'n afkappingsteken nie.

  • Byvoorbeeld: Du Toits, Rouxs, Du Preeztjie.


 

Woorde wat op 'n vokaalletter met 'n diakritiese teken eindig , kry 'n -s in die meervoud, sonder 'n afkappingsteken.

  • Byvoorbeeld: attachés, clichés, relês, ietermagôtjie, Fouchés, Kotzés

 

Lees meer

In hoofstuk 2 van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls kan jy meer lees oor die afkappingsteken in Afrikaans. 






Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties