Diftonge
Diftonge (of tweeklanke) bestaan uit meer as een vokaal. Soms word dit deur meer as een klinker geskryf, ander kere nie.
Afrikaans het drie egte diftonge:
- die [əi]-klank in reis of rys
- die [œi]-klank in huis
- die [œu]-klank in pous
Ons het ook ses nie-egte diftonge in Afrikaans:
- die [e:u]-klank in leeu
- die [ɑ:i]-klank in raai
- die [o:i]-klank in rooi
- die [ui]-klank in roei
- die [ai]-klank in kaiings
- die [ɔi]-klank in toiings
Die [əi]-klank word soms met 'n y en soms met ei in Afrikaans geskryf. Byvoorbeeld:
- Ons eet elke dag rys.
- Ek reis volgende week na Europa.