3124 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Jou vriend, die woordeboek

Jou vriend, die woordeboek


Ons leef deesdae in ’n wêreld waar jy net na jou foon of rekenaar hoef te kyk om ’n stortvloed van inligting in ’n oogwink te kry. Dié inligting is egter nie altyd akkuraat nie en wanneer  dit by korrekte spelling en woordkeuses kom is niks so onmisbaar soos ’n goeie woordeboek nie. ’n Goeie woordeboek, ja, want daar is ook minder goeie woordeboeke. Kom ons kyk bietjie van naderby na hierdie onmisbare hulpmiddel wat soms veels te maklik oor die hoof gesien word.

 

Ek is slimmer as jy!

Dit is 'n algemene menslike eienskap om te glo dat ons meer weet as wat werklik die geval is. Hierdie oorvertroue kan lei tot verleentheid, misverstande, en selfs onnodige rusies. Die afgelope week het ek ’n hele paar kwaai e-posse ontvang oor ’n toets in Beter Afrikaans waar die woord “knibbel” voorkom in die betekenis van ‘oor iets twis’. Ek gee toe dat “knibbel” minder bekend is as sy eweknie “kibbel”, maar in die betrokke konteks is die twee woorde ’n goeie voorbeeld van ’n wisselvorm. Albei was dus korrek. Soos die geval egter bewys, is ’n mens gou om op jou taalkennis staat te maak as die hoogste gesag in Afrikaans. Sommige van die kwaai reaksies het selfs foto’s van uittreksels uit woordeboeke ingesluit, maar nagelaat om te kyk of die woord waaroor hulle stry, nie ook in die woordeboek voorkom nie.

 

Aan jou kommunikasie word jy geken

Onakkurate of verouderde taalgebruik kan meer as net sosiale verleentheid veroorsaak; dit kan ook in professionele kontekste tot ernstige misverstande lei. Dink byvoorbeeld aan uitdrukkings wat ’n mens deesdae baie hoor soos “uitgemis”. Dit is natuurlik ’n direkte vertaling uit Engels, maar as jy na die woord in ’n Afrikaanse konteks kyk, lyk dit eerder soos iemand wat die toilet besoek het. Nog so ’n voorbeeld is die woord “opbring”. Byvoorbeeld: Ons kan die kwessie tydens die volgende vergadering “opbring”. Beter voorbeelde hier sou “opneem”, “onder die loep neem” of “bespreek” wees. Die woord “opbring” verwys na iets wat jy doen as jy siek is.

 

Hoe oud is jou woordeboek?

Dit bring my by die volgende punt. Anders as wat sommige mense glo, het Afrikaanse spelreëls nie radikaal verander nie. Dit is egter so dat sommige skryfwyses wat in die verlede gegeld het nie deesdae nie meer is nie. ’n Mens sien byvoorbeeld dikwels hoe sommige mense “Sjina” skryf in plaas van “China”. Die spelling “Sjina” was vroeër korrek, maar deesdae is “China” die enigste vorm wat deur die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls erken word. Dit is ook die enigste spelling wat in ’n moderne woordeboek gevind sal word. Hou net in gedagte dat sommige woordeboeke verskyn het voordat die jongste AWS verskyn het. Dit beteken nie dat hulle heeltemal onbruikbaar is nie, maar hou net in gedagte dat hulle nie altyd die jongste spelwyse weergee nie.

 

Die era van elektronika

Met die opkoms van aanlyn woordeboeke en taalhulpmiddels, soos www.pharosaanlyn.co.za en www.viva-afrikaans.org, is dit nou makliker as ooit om vinnig toegang tot taalkundige inligting te verkry. Hierdie woordeboekportale bied deur middel van ’n jaarlikse subskripsie toegang tot verskeie woordeboeke en taalhulpmiddels na gelang van die gebruiker se voorkeure en behoeftes.

 

Watter woordeboek?

Daar is verskillende soorte woordeboeke, elk ontwerp om te voldoen aan spesifieke behoeftes:

  • Verklarende woordeboeke fokus op die definisies van woorde, gee dikwels sinonieme, en verduidelik die gebruik. Voorbeelde hiervan is die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal uitgegee deur Pearson Education en die Verklarende Afrikaanse Woordeboek uitgegee deur Pharos.
  • Vertalende woordeboeke bied vertalings tussen twee of meer tale, nuttig vir taalleerders en vertalers. Voorbeelde hiervan is die Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Woordeboek deur Pharos
  • Etimologiewoordeboeke verken die oorsprong en geskiedenis van woorde, 'n fassinerende blik op die ontwikkeling van 'n taal.
  • Sinoniemwoordeboeke of tesourusse help met die vind van woorde met soortgelyke betekenisse, ideaal vir skrywers wat hul woordeskat wil uitbrei.
  • Dan het ons ook nog omvattende woordeboeke soos die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Woordenboek der Nederlandsche Taal en die Oxford English Dictionary.

Baie van hierdie woordeboeke is op aanlyn woordeboekportale beskikbaar.

 

’n Woordeboek is jou vriend en onskatbare hulpmiddel vir die uitbreiding van woordeskat, korrekte spelling en vertaling. Dit help ons nie net om misverstande te voorkom en onsself beter uit te druk nie, maar bied ook 'n venster na die rykdom en diversiteit van menslike taal. In 'n wêreld wat vinnig verander, bied die woordeboek 'n stewige basis waarop ons kan bou. Dit is meer as net 'n naslaanwerk; dit is 'n brug na beter begrip en waardering van die mag en skoonheid van taal.

 






  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties