2982 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Aanhalingstekens

Daar is twee soorte aanhalingstekens.

  • "dubbelaanhalingstekens"
  • 'enkelaanhalingstekens'

Aanhalingstekens word altyd teenaan die gedeelte geskryf wat aangehaal word met spasies daarvoor en daarna.

 

 

In Afrikaans gebruik ons meestal dubbelaanhalingstekens, behalwe waar daar 'n aanhaling binne 'n aanhaling is - dan gebruik ons enkelaanhalings. Byvoorbeeld:

  • "Dit was baie interessant!" sê Susan.
  • Kobus sê: "Susan het 'Skote Petoors!' geskree toe sy die antwoord kry."


Aanhalingstekens en ander leestekens

 

In die onderstaande voorbeelde word getoon hoe 'n mens 'n komma, punt en vraagteken in aangehaalde dele gebruik.

  • Pieter sê: "Ek is hier gebore."
  • "Wat eet ons vanaand?" vra Thea.
  • "Pas op!" roep hy.
  • "Ek sal saamspeel," sê Henk, "maar dan wil ek wen." (komma hoort by die aangehaalde sin)

Wanneer 'n mens net 'n frase of woord in die indirekte rede aan die einde van 'n sin aanhaal, kom die leesteken ná die aanhalingsteken. Byvoorbeeld:

  • Hy het gekla hy het "hoofpyn".


"Sogenaamd"

 

Soms gebruik 'n mens aanhalingstekens om te wys dat jy iets ironies bedoel. Byvoorbeeld:

  • Die inbreker is "liefdevol" aan die kraag uit die huis begelei. 
    Jy kan hier sien dat dit beslis nie liefdevol was nie.

 


 

Aanhalingstekens vir woorde uit vreemde tale

 

In koerante en boeke word woorde uit vreemde tale dikwels in skuinsdruk (italics) geplaas. In gevalle waar jy nie iets in skuinsdruk kan skryf nie (soos byvoorbeeld op Facebook), kan jy woorde uit ander tale tussen dubbelaanhalingstekens plaas. Byvoorbeeld:

  • Die datavinger ("memory stick") se funksie is vervang deur datadienste in die Wolk ("Cloud").
  • Die leeu ("Panthera leo") is een van die Groot Vyf.

Let daarop dat leenwoorde (dit is woorde wat reeds ingeburger is in Afrikaans) nie in skuinsdruk of tussen aanhalingstekens geplaas moet word nie. Byvoorbeeld:

  • denim, steak, gentleman
  • pizza, paparazzi
  • prima facie, ad infinitum, ad hoc

 






  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties