2906 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Samestellende samestellings

Wanneer 'n woordgroep bestaan uit 'n byvoeglike naamwoord (of telwoord) en selfstandige naamwoord wat in 'n samestelling as bepaler by 'n volgende selfstandige naamwoord optree, word al drie elemente vas geskryf. Ons noem dit 'n samestellende samestelling. Byvoorbeeld:

  • ope + lug teater opelugteater
  • hoog hak + skoen = hoëhakskoen
  • breed + rand + hoed = breërandhoed
  • twee deur + Mercedes + sedan = tweedeur-Mercedes-sedan
  • vyf + jaar + plan = vyfjaarplan
  • lang + been + spinnekop = langbeenspinnekop
  • kort + termyn + versekering = korttermynversekering
  • lang + termyn + oplossing = langtermynoplossing
  • akademiese + hulp + sentrum = akademiesehulpsentrum

As 'n mens verkeerdelik 'n spasie invoeg, kan die woord 'n heel ander betekenis kry. Hier is 'n paar voorbeelde: 

  • goue + medalje + wenner = gouemedaljewenner (dis nie 'n *goue medaljewenner nie, want die medaljewenner is nie van goud gemaak nie)
  • lang + afstand + atleet = langafstandatleet (dis nie 'n *lang afstandatleet nie, behalwe as die atleet besonder lank is)
  • rooi + wyn + glase = rooiwynglase (soos wat 'n mens groen of blou wynglase kan kry, kan jy ook rooi wynglase kry, maar dis nie noodwendig bedoel vir rooiwyn nie. As jy verwys na glase wat vir rooiwyn bedoel is, is dit rooiwynglase.)

As 'n mens 'n spasie tussen die woorddele skryf, kan 'n mens ook verkeerdelik die woorde elk met hul eie klem uitspreek, terwyl 'n samestelling eintlik net een klem het.

  • rooi wynglase (rooi en wyn het dieselfde klem)
  • rooiwynglase (rooi het meer klem as wyn)

As jy vind dat 'n koppelteken leesbaarheid vergemakllik, gebruik dit gerus. Byvoorbeeld:

  • ekonomieseklas-passasier

As een van die twee dele van die samestelling 'n naam van twee woorde is, behou 'n mens die spasie:

  • Middellandse See + gebied = Middellandse Seegebied of Middelandse See-gebied
  • Land Rover + bakkie = Land Roverbakkie of Land Rover-bakkie

As die woorde nie leesprobleme skep sonder 'n koppelteken nie, laat dit gerus weg.






  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties